Monday, 19 October 2009

Blindederm maak oë oop

Gepubliseer in Beeld 17 Oktober 2009

Voorverlede Donderdag ervaar my vrou ontsettende pyn. Ons het ʼn dokter dringend nodig.

Dis al vroegaand en ek weet – oeps – sy het die Verenigde Koninkryk se Sentrale Regulasie Betreffende Publieke Olikheidsure flagrant oortree.

As jy so agtelosig is om in die VK siek te wil word, doen dit tog tussen die ure van 9 voormiddag en 5 namiddag – op werksdae, asseblief – want jou hulp kom van die glorieryke sosialistiese NHS, die staatsbefondse Nasionale Gesondheidsdiens, met sy 1,3 miljoen werknemers, insluitende ʼn soutknippie dokters. Met die uitsondering van hospitaal- en noodpersoneel werk daardie 1,3 miljoen staatsamptenare volgens staatsdiensure.

Mediese dokters in die NHS is 9-tot-5-amptenare met geordende teepouses. Hulle is swaaistoelmedici in staatsklinieke en die woord “huisbesoek” is nie in hulle woordeskat nie. Die enigste staatsamptenare wat jy nou op huisbesoek kan verwag is polisiemanne en waardeerders van Haar Majesteit se Inkomstediens.

Die regering het darem ʼn oplossing vir diegene wat mediese hulp tuis wil hê – NHS Direct, ʼn nuwe telefoondiens, sodat jy 24 uur van die dag met ʼn medikus oor jou ontsettende maag/rug/hoofpyn (skrap wat nie van toepassing is nie) kan praat totdat die mediese kenner jou na ʼn lang gesprek meedeel dat hy of sy jou nie per telefoon kan diagnoseer nie en dat jy regtig maar ʼn afspraak met ʼn dokter moet maak.

As jou blindederm die volgende oggend nog nie finaal ontplof het nie of jou beroerte-aanval was net gedeeltelik en jy kan nog mompel, moet jy jou plaaslike kliniek bel. Dis net daar waar die spuitnaald op die vloer val, want Britse dokters moet stram staatsteikens navolg. ʼn Dokter en kliniek sal byvoorbeeld beboet word as jy nie gehelp word binne 48 uur nadat jy jou afspraak gemaak het nie. Daarom hou ons plaaslike kliniek wat ses dokters het, met fyn vernuf slegs een telefoonlyn oop vir afspraakreëlings elke weeksdagoggend tussen 9 en 10. En omdat daar so baie ongemanierde Britte is wat nie hulle krankhede kan beperk tot kantoorure nie, is daardie enkele kliniektelefoonlyn soggens tussen 9 en 10 só beset dat jy nie kan deurkom nie. Dis mos deel van die Hippokratiese Eed: Stop jou pasiënte en jy stop jou boetes.

Jy moet persoonlik na die kliniek gaan en baklei om ʼn dokter te sien.

Soos die twee ou tannies wat vroegoggend elke dag in hulle klein dorpie by die enkele NHS-dokter se deur ingeval het vir pille en praatjies – ʼn lekker sosiale geleentheid op staatskoste. Een oggend sit net een ou tannie daar en die dokter vra: “Waar is Mollie?” waarop sy antwoord: “Mollie is siek. Sy kan nie vandag kom nie.” Dis die probleem met die NHS. Dis so gratis dat dit geen waarde het nie, misbruik word en in sekere opsigte (nie alle opsigte nie) swak diens lewer.

Terug by verlede Donderdag. My vrou staan dubbelgevou van die pyn en ek weet die 62 jaar oue NHS het die skete van ʼn 62-jarige en is self te siek om haar buite olikheidsure te diagnoseer.

Die ergste is dat ons veronderstel is om die volgende dag na die VSA te vlieg want ek is die toerorganiseerder vir ʼn groep Engelse gholfvriende in Suid-Carolina.

Ons klim in die kar en ry Londen toe vir ʼn laataand afspraak met ons privaatdokter wat effens uitrek, want drie dae later ry ons terug vanaf Londen nadat my vrou se blindederm ʼn posisie as laboratoriummonster in Londen aanvaar het.

Omdat dr. Baie-lang-Poolsenaam haar verbied het om te vlieg, bevind ek my ʼn week later alleen saam met die gholfgroep in die Verenigde State van Obamaland waar dit my opval dat Amerikaanse TV en die NHS in ʼn sekere sin eenders is.

Amerikaanse TV advertensies word op ʼn baie ongemanierde wyse onderbreek deur programme. In die NHS word misbruik op ʼn baie ongemanierde wyse onderbreek deur mediese versorging.

ʼn Sekere rooi drankie kan jou miskien vlerke gee, maar ʼn moeilike blindederm maak jou oë oop.

0 comments: