Gepubliseer in Beeld 17 Oktober 2009
Voorverlede Donderdag ervaar my vrou ontsettende pyn. Ons het ʼn dokter dringend nodig.
Dis al vroegaand en ek weet – oeps – sy het die Verenigde Koninkryk se Sentrale Regulasie Betreffende Publieke Olikheidsure flagrant oortree.
As jy so agtelosig is om in die VK siek te wil word, doen dit tog tussen die ure van 9 voormiddag en 5 namiddag – op werksdae, asseblief – want jou hulp kom van die glorieryke sosialistiese NHS, die staatsbefondse Nasionale Gesondheidsdiens, met sy 1,3 miljoen werknemers, insluitende ʼn soutknippie dokters. Met die uitsondering van hospitaal- en noodpersoneel werk daardie 1,3 miljoen staatsamptenare volgens staatsdiensure.
Mediese dokters in die NHS is 9-tot-5-amptenare met geordende teepouses. Hulle is swaaistoelmedici in staatsklinieke en die woord “huisbesoek” is nie in hulle woordeskat nie. Die enigste staatsamptenare wat jy nou op huisbesoek kan verwag is polisiemanne en waardeerders van Haar Majesteit se Inkomstediens.
Die regering het darem ʼn oplossing vir diegene wat mediese hulp tuis wil hê – NHS Direct, ʼn nuwe telefoondiens, sodat jy 24 uur van die dag met ʼn medikus oor jou ontsettende maag/rug/hoofpyn (skrap wat nie van toepassing is nie) kan praat totdat die mediese kenner jou na ʼn lang gesprek meedeel dat hy of sy jou nie per telefoon kan diagnoseer nie en dat jy regtig maar ʼn afspraak met ʼn dokter moet maak.
As jou blindederm die volgende oggend nog nie finaal ontplof het nie of jou beroerte-aanval was net gedeeltelik en jy kan nog mompel, moet jy jou plaaslike kliniek bel. Dis net daar waar die spuitnaald op die vloer val, want Britse dokters moet stram staatsteikens navolg. ʼn Dokter en kliniek sal byvoorbeeld beboet word as jy nie gehelp word binne 48 uur nadat jy jou afspraak gemaak het nie. Daarom hou ons plaaslike kliniek wat ses dokters het, met fyn vernuf slegs een telefoonlyn oop vir afspraakreëlings elke weeksdagoggend tussen 9 en 10. En omdat daar so baie ongemanierde Britte is wat nie hulle krankhede kan beperk tot kantoorure nie, is daardie enkele kliniektelefoonlyn soggens tussen 9 en 10 só beset dat jy nie kan deurkom nie. Dis mos deel van die Hippokratiese Eed: Stop jou pasiënte en jy stop jou boetes.
Jy moet persoonlik na die kliniek gaan en baklei om ʼn dokter te sien.
Soos die twee ou tannies wat vroegoggend elke dag in hulle klein dorpie by die enkele NHS-dokter se deur ingeval het vir pille en praatjies – ʼn lekker sosiale geleentheid op staatskoste. Een oggend sit net een ou tannie daar en die dokter vra: “Waar is Mollie?” waarop sy antwoord: “Mollie is siek. Sy kan nie vandag kom nie.” Dis die probleem met die NHS. Dis so gratis dat dit geen waarde het nie, misbruik word en in sekere opsigte (nie alle opsigte nie) swak diens lewer.
Terug by verlede Donderdag. My vrou staan dubbelgevou van die pyn en ek weet die 62 jaar oue NHS het die skete van ʼn 62-jarige en is self te siek om haar buite olikheidsure te diagnoseer.
Die ergste is dat ons veronderstel is om die volgende dag na die VSA te vlieg want ek is die toerorganiseerder vir ʼn groep Engelse gholfvriende in Suid-Carolina.
Ons klim in die kar en ry Londen toe vir ʼn laataand afspraak met ons privaatdokter wat effens uitrek, want drie dae later ry ons terug vanaf Londen nadat my vrou se blindederm ʼn posisie as laboratoriummonster in Londen aanvaar het.
Omdat dr. Baie-lang-Poolsenaam haar verbied het om te vlieg, bevind ek my ʼn week later alleen saam met die gholfgroep in die Verenigde State van Obamaland waar dit my opval dat Amerikaanse TV en die NHS in ʼn sekere sin eenders is.
Amerikaanse TV advertensies word op ʼn baie ongemanierde wyse onderbreek deur programme. In die NHS word misbruik op ʼn baie ongemanierde wyse onderbreek deur mediese versorging.
ʼn Sekere rooi drankie kan jou miskien vlerke gee, maar ʼn moeilike blindederm maak jou oë oop.
Monday, 19 October 2009
007, daar’s ʼn Oddjob vir jou in Buckinghamshire
Gepubliseer in verkorte vorm in Beeld van 19 September 2009
ʼn Britse geheime agent is mos gelisensieer om roekeloos te moor. Hy kan sommer uit ʼn vliegtuig sonder ʼn valskerm spring, ʼn ander ou se valskerm in die lug steel en veilig land.
Dit was daarom effens teleurstellend om te sien dat die Britse geheime diens onlangs ʼn advertensie geplaas het vir ʼn gesondheid en veiligheidsbeampte “om ons personeel veilig te hou in hulle dagtaak van die beskerming van hierdie land teen bedreigings” en om “’n kultuur van positiewe veiligheid te bevorder”.
Wat gaan die gesondheid en veiligheidsbeampte doen?
Bond, jou Aston Martin het ʼn veiligheidsgordel vir ʼn goeie rede. Gebruik die ding as jy agter daardie stuurwiel inklim. En onthou jou antihistaminetablette want Blofeld se kat kan jou hooikoors gee. Hier’s jou pamflet oor veneriese siektes vir jou sending. Lees en vernietig. Jou kondome is in die geheime kompartement van jou Walther PPK pistool en, o ja, in dieselfde kompartement sal jy oorpluisies vind vir die beskerming van jou gehoor wanneer jy die sneller trek.
Eintlik moet ek toegee dat ek al die tyd geweet het dat Britse geheime agente meer met lêers as met booswigte stoei.
ʼn Vriend van my was ʼn Britse geheime agent in Suid-Afrika.
Hy vertel hoe hy eendag ʼn allemintige ongelukslag hoor buite die plot wat hy tussen Lanseria en Krugersdorp gehuur het en hoe hy ophardloop na die stofpad waar hy ʼn omgerolde motor vind. Hy merk toe op dat die motor ʼn Russiese diplomatieke nommerplaat het. ʼn Man kruip uit by die venster en, wonder bo wonder, dis die plaaslike KGB-man in Suid-Afrika wat hy nogal goed ken.
Die KGB-man staan op, stof homself af en sê aan my vriend (dink aan ʼn afgemete Russiese aksent): “A ja, Britse intelligensie. Altyd daar wanneer jy dit nodig het.”
En wat doen my vriend? Hy los nie die Rus daar in die pad agter met net ʼn kan olie om te drink nie. Nee, soos enige Goeie Samaritaan nooi hy die KGB-man in en help hom om dinge uit te sorteer.
Gelukkig is Britse intelligensie vandag vir die Britte ook steeds daar wanneer hulle dit regtig nodig het.
Ek onthou die dag drie jaar gelede toe Britse intelligensie daar was vir die land – die dag toe lughawesekuriteit vir altyd verander het.
Dit was in Augustus 2006 toe my dogter Jana my van haar huis in High Wycombe, Buckinghamshire, bel en se: “Pa, skakel die televisie aan en kyk na die nuus. Iets ernstig is aan die gang want die polisie het die straat voor ons afgesper en ʼn helikopter hang oor die huis.”
Een van haar buurmanne om die hoek, ene Assad Sarwar, het in sy huis en die nabye bos genoeg plofstofbestanddele opgegaar om duisende mense te vermoor met koeldrankbottelbomme op 20 transatlantiese vliegtuie. Die polisie het daardie dag 21 mense in hegtenis geneem. Sarwar was die kwartiermeester van die groep wat aan grootskaalse moord en doodslag gewerk het onder die leiding van ʼn klomp baardmanne in Pakistan.
Dit was ʼn moeilike dag in Britse intelligensiekringe.
Die geheime diens wat die spul terroriste dopgehou het wou die groep nog ʼn bietjie laat voortgaan maar was bekommerd dat die terroriste hulle program sou verhaas omdat die Amerikaanse regering, ten spyte van ʼn Britse versoek vir geduld, iemand op die rand van die groep in hegtenis geneem het.
Die polisie-optrede was gedwonge voortydig en die lêerbewyse miskien nog nie heeltemal voldoende nie.
Die taak van vandag se James Bonds is om genoeg lêerbewyse te hê vir regsoptrede. Hulle kan nie soos Sean Connery sommer ʼn skobbejak in ʼn tenk gevul met piranhas gooi of soos Pierce Brosnan ʼn boef doodvries met vloeibare stikstof nie.
Daar was voldoende elektroniese afluisteringsbewys maar – kan jy dit glo? - die Britse regstelsel laat nie elektroniese afluistering toe as skuldbewys nie en die saak teen die 21 het chaoties geëindig.
Uiteindelik is die saak herverhoor met verdere bewyslewering en het die reg geseëvier.
Vandeesweek in September 2009 is Assad Sarwar en twee trawante lewenslange tronkstraf opgelê.
Dit maak nou nie juis op vir die koste en ongerief van tonne vloeistof wat nou jaarliks van miljoene mense op lughawens gekonfiskeer word nie maar Britse intelligensie het duisende mense se lewens gered.
En al die geheime agente hoef nie eers na eksotiese Monaco of Montenegro te gereis het nie of drankies te koop vir meisies met verruklike name soos Pussy Galore of Vesper Lynd nie.
Nee, hulle het die skurk sommer hier in sy huis in Waltonrylaan, High Wycombe, om die hoek van my dogter vasgetrek.
Die lêer is magtiger as die swaard.

Wednesday, 26 August 2009
Sheriff vir liefdadigheid
(Hierdie rubriek het op 18 Augustus in Beeld verskyn en is effens verleng vir die boek.)
As daar nou een ding is wat my dwars in die krop steek is dit verwaande naamsmouse wat gedurig spog oor vername mense wat hulle ken.
Dit was my presiese woorde nou die dag aan my baie goeie vriend, Allan Westray, die huidige high sheriff van Buckinghamshire, toe ons gholf speel.
Die pos van ʼn Britse hoë sheriff moet nie verwar word met dié van ʼn Suid-Afrikaanse balju nie. Jy hoef nie jou huisraad in die garage van vriendelik bure weg te steek as die hoë sheriff jou bel nie.
Elke graafskap in Engeland en Wallis het ʼn hoë sheriff wat die koninklike gesin sonder betaling verteenwoordig, seremonieel wet en orde behou en optree as hoofverkiesingsbeampte. Allan is dus teenwoordig wanneer Prins Charles in ons graafskap ʼn potplant kom kielie of Prins Andrew per helikopter invlieg vir ʼn 10-minuutlange toespraak en vyf ure se gholf.
By ernstige amptelike koninklike geleenthede dra die Hoë Sheriff ʼn lang swaard vir geen goeie rede nie behalwe dat dit miskien mense kan afskrik daarvan om met hom gek te skeer oor sy kleredrag – ʼn 18de eeuse swart fluweelbaadjie met te veel knope, wit satynfrilletjies om sy nek, ʼn driehoekige punthoed, swart kniebroek, swart kouse en skoene met silwer gespes.
Ten spyte van sy Beau Brummel kleredrag is hy nie ʼn lui laventelhaan nie. Hy spits homself grootliks toe op liefdadigheidswerk.
Hierdie hedendaagse liefdadigheidswerk van ʼn hoë sheriff kontrasteer nogal met die oorsprong van die pos.
Dit het alles begin toe die Wikings die Angel-Saksers in 991 verslaan het onder Koning Ethelred the Unready (en ek het gedink Greeff is ʼn goor naam in Engelse geselskap!).
Eintlik was Ethelred the Unready nie Ethelred die Ongerede nie. Die bynaam verwys na ʼn Angel-Saksiese woord “unraed” wat amper soos Afrikaans klink en “swak raad” beteken.
Die Angel-Saksers was sulke slapgewrig handsakslaners dat Ethelred, op die aandrang van sy raadgewers, besluit het om die Wikings te betaal om weg te bly. “U Majesteit, Krygsugtige Knut het ons ʼn aanbod gemaak wat ons nie van die hand kan wys nie. Hy het ʼn ongelooflik goeie versekeringsproduk wat hy verkoop. As ons ʼn paar sakke silwer by hom in Denemarke aflewer sal hy seker maak dat ons in vrede leef.”
So het Ethelred in 992 ʼn belasting, “Danegeld”, as beskermingsgeld gehef vir die Deense strydbylMafia. Om die belasting in te vorder het Ethelred die eerste sheriffs aangestel as sy persoonlike verteenwoordigers. En hy het hulle sommer die reg gegee om vir hul eie gewin ook geld in te vorder – gelukkig vir Warner Brothers, MGM, Disney en die Robin Hoodlughawe in Nottinghamshire wat lekker wins bedryf verhale van opstand teen die sheriff van Nottingham.
Die woord “Sheriff” kom van “shire” (graafskap) en “reeve” (Oudengels vir ʼn koninklike verteenwoordiger wat die vrede moes hou oftewel die koning se kode vir “kry die geld in en hou die gepeupel se bekke sodat hulle nie jou keel afsny of, erger, my kom pla nie”).
Gelukkig is vandag se hoë sheriff nie meer ʼn belastinggaarder nie. Ek kan dus sonder ʼn haelgeweer in my gholfsak met vriend Allan op Ellesborough Gholfklub afslaan sonder die risiko van ʼn ongemaklike gesprek met ʼn Bende Vrolike Rowers gelei deur ʼn boogskutter in nousluitende broek met ʼn veer op sy kop.
Daar is egter nou en dan ʼn geleentheid waar ons hoë sheriff van Buckinghamshire met ʼn jouende skare te doen kry want hy of sy moet teenwoordig wees by die inweegseremonies van die burgemeester van High Wycombe, ons naaste stad.
Die burgemeester word elke jaar in die hoofstraat voor ʼn skare geweeg waarna die stafroededraer die burgemeester se gewig uitroep en dan byvoeg “en ʼn bietjie meer” of “en ʼn bietjie minder”. As dit ʼn bietjie meer is, koggel die skare die burgemeester uit want hy het vet geword ten koste van die inwoners; as dit ʼn bietjie minder is juig die skare want dit bewys die burgemeester het so hard gewerk dat hy gewig verloor het. Die hoë sheriff is die graafskap se seremoniële boegfiguur wat moet bystaan.
Die hoë sheriff word dus vandag in goeie gees bejeën. Die ou gehate hoë sheriffs is nou graafskappe se liefdadigheidsleiers.
Amptelike liefdadigheid bestaan reeds 400 jaar in Engeland. ʼn Tudorwet op liefdadigheidsgebruike het in 1597 filantropie onder die aristokrasie en handelaars aangemoedig toe ʼn landboukrisis ʼn toestroming van mense na die stede geskep het.
Sedertdien het liefdadigheid groot besigheid in Brittanje geword.
Volgens die reguleerder, die Charities Commission, het Engelse en Walliese liefdadigheidsorganisasies in die twaalf maande tot einde Junie 2009 ʼn totale jaarinkomste getoon van £51.16 biljoen – teen vandag se wisselkoers ongeveer R680 biljoen (so R55 biljoen meer as Suid-Afrika se totale belastinginkomste vir 2008-2009).
As drie Engelse skipbreukelinge op ʼn onbewoonde eiland uitspoel sal hulle binne ʼn uur ʼn liefdadigheidsprojek loods vir minder bevoorregtes wat nie saam met hulle op die eiland kan wees nie.
Maar ʼn gestrande Hollywoodakteur in Engeland kan ook verrassend optree.
ʼn Man stap nou die dag in by ʼn liefdadigheidswinkel vir kankernavorsing in Sunningdale naby Heathrow en vra of die winkel skenkings aanvaar.
Die dame by die kasregister herken hom nie en oorhandig hom ʼn registerboek om sy naam in te vul.
Hy vul toe sy naam in - Russell Crowe - skryf ʼn tjek uit vir £1000 en gesels ʼn bietjie met die personeel.
En hulle vra hom natuurlik hoe hy by hulle uitgekom het.
Hy was toevallig oorkant die straat vir middagete want hy speel die rol van Robin Hood in ʼn nuwe rolprent wat in die omgewing geskiet word.
Was Russell Crowe ʼn naamsmous van Robin Hood?
Nee. Net ʼn gewone man wat gewys het dat dit beter is om te gee sonder om eers te steel.

Subscribe to:
Posts (Atom)